As kind was ek so skaam dat ek nooit boe of ba kon uitkry nie. Ek was die dogtertjie met die vuil groottoon wat in die grond boor, te beskroomd om my mening te lug.
En nou wil ek sowaar hier skryf oor my boeke wat wel die winkelrakke gehaal het! Die toepaslike spreekwoorde wat ek ken maak my tog huiwerig. Dit smaak my dat daar eerder ‘n reukie van selfverheerliking as selfbemarking by hierdie proses betrokke is.
Die trompet blaas, eie basuin blaas, die groot trom slaan – almal bra negatief. Wat ek regtig nie wil wees nie, is ‘n snoeshaan, al klink die woord net reg vir ‘n koue wintersaand.
Nietemin! Dis die nuwe neiging. So kon skrop maar asseblief saam met die snoeshaan rond op hierdie sosiale werf. Miskien snuffel ek tog ‘n vet mieliepit of twee uit om met jou te deel – of dit oor die skryfproses gaan, oor ‘n mooi boek wat ek gelees het, ‘n Afrikaanse woord of gesegde wat net reg op die tong proe, of dalk ‘n foto of die herinnering aan ‘n reis is wat ek wil deel.
Comments on: "Boe – en Ba!" (4)
WELKOM. Dis al.
DANKIE! Dis al.
Bietjie laat … Nog ‘n welkom-groet van my!
Dankie, Bosveldgirl. Ek hoop dis lekker warm daar by jou in die bosveld!