Die plek waar ek die groot trom slaan oor boeke, skryf, lees, Afrikaans en reis

Om my gevoelens op papier neer te pen, is my belangrikste uitlaatklep. Onlangs ontdek ek weer  ʼn dagboek uit my kleintyd. “So baie jare is verby,” skryf ek dramaties op my dertiende verjaarsdag, net na die inskrywing van hoe ek saam met my broers albaster gespeel het.

Deur die jare het die gewoonte my duisende rande bespaar aan rekenings van sielkundiges, huweliksraadgewers en prokureurs, dit glo ek vas. Papier is mos geduldig. En deesdae kan vinnige vingers op rekenaartoetse trauma, woede en hartseer vlytig verwerk.

Die eerste keer toe my hart gebreek is, het dit  ʼn swart hardebandboek vol selfbejammering opgelewer. Dis aangevul met toepaslike aanhalings uit Sy kom met die sekelmaan en soortgelyke lydingsgeskiedenisse. Ek moes die dagboek verbrand toe my volgende kêrel op die toneel verskyn, want ek sou tot in my tone ineengekrimp van skaamte as hy dit sou sien.

‘n Besondere traumatiese tyd in my lewe het ʼn hele manuskrip opgelewer. Genadiglik is dit nooit gepubliseer nie, maar sedertdien het ek bruikbare stukke daaruit gekannibaliseer vir nuwe boeke. Net soos ʼn mens nie die presiese intensiteit van pyn kan onthou nie, so is jy soms by ʼn herlees verbaas oor hoe rou jou emosies was.

Was ek regtig so kwaad soos die aand toe ek in ʼn Word-dokument vuur gespoeg het? En die klagstaat van my naaste en liefstes se oortredings en tekortkomings wat ek verdoesel het tussen my administratiewe dokumente, was dit op die ou end so erg? Ek onthou dan nie eens wat gebeur het nie.

Die pen is nie net magtiger as die swaard nie. As jy so impulsief soos ek is, is dit ook verkieslik. Die enigste probleem is die dag wanneer ek vir altyd oorstap na die kamer langsaan. Miskien moet ek ʼn kodisil in my testament sit: verbrand al my dagboeke, breek my CD’s,  format my rekenaar en behou so julle beeld van my sagmoedigheid.

Of lees die goed, warrehel. Ons is almal net mense.

About these ads

Comments on: "Hartuitstortings op papier" (17)

  1. Ek het onlangs, na meer as 30 jr, my ou dagboeke gelees. Ek is sooo bly ek het hulle nie verbrand, soos ek nog altyd gedink het ek moes nie. Soos jy, was ek ook verbaas oor gevoelens en gebeurtenisse van lank gelede- lekker leesstof vir eendag as ek in die ouetehuis sit. Wat gee ek om wat hulle lees na my dood? Dan ‘worry “ek mos nie meer daaroor nie? Noue word hulle veilig bewaar in die kluis sodat hulle nie dalk perongeluk ierts oorkom nie.,

    • Jy was slim! Ek is baie spyt ek het sommige van my dagboeke vernietig. Ja wat, na ons dood skok ons dalk die wat agterbly uit hulle skoene, of miskien leer hulle ons vir die eerste keer werklik ken.

  2. ek dink ook hulle gaan ons leer ken- en hulle hande saamslaan oor die “vervelige ou tannie” se jeug.

    • Hehehe. Of verbaas wees oor hoe vervelig die tannie wat nou so wild is, se jeug was!

      • Goeiste ja! ek geniet jou blogs, en veral die snowflake metode was vir my ‘n openbaring. Nooit besef om ‘n boek te skryf is so ‘n wetenskap nie. Eendag gaan ek dit nog ook probeer doen – ‘n roman , liefdes-, speur-, of so-iets!

  3. Dankie, ek het maar nou-eers behoorlik begin blog. Hoop daar sal in die toekoms meer te lese wees. Ek geniet jou geskrifte ook baie, want ek lees al vir ‘n geruime tyd gereeld die blogs.

    Wat betref die boek wat jy wil skryf – waar ‘n wil is, is ‘n weg! Dit klink meer ingewikkeld as wat dit regtig is. Wat ek nie genoem het nie, is hoe lekker dit is, veral wanneer jy die eindproduk op die rak sien. :)

  4. Ek kan glo. ‘ma se seksboek” was vir my net so lekker. Maar ‘n fiksie ding is beslis meer ingewikkeld. Eerste moet jy die IDEE he, dan moet die karakters ontwikkel…. ek haal my hoed vir julle af!

  5. Ek moet erken, vandat ek begin blog het, bly my dagboeke maar agter.
    Ek dink tog daar is ‘n verskil tussen die pyn en woede fisies uitskryf, en om net gou iets te tik op die rekenaar.
    Met skryf is daar geen terugkeer nie, geen “edit” knoppie of “delete” nie – net soos die lewe.
    Dankie dat jy daar by my ‘n draai kom maak het ;-)

    • Miskien is blogs die hedendaagse dagboeke? Dit voel vir my so, in elk geval. Ek bêre dit sommer in my “memoirs” lêer op my rekenaar, wat nie beteken dat ek ooit eendag my memoirs gaan publiseer nie! Dis waar, daar is ‘n verskil tussen skryf en tik op die rekenaar. Mens kan ook sulke woedende swart strepe in jou dagboek maak, sodat die papier amper daarvan skeur.

      Dankie vir jou kuier hier.

  6. Gelukkig gaan jy dan glad nie meer omgee wie WAT OOK AL van jou weet nie! Dalk publiseer hulle nog jou dagboeke!
    Ek het weer bidboeke, wat ek ook baie diep wegsteek. As hulle dit wil lees, is dit oraait, maar ek hoop hulle dink dis net ‘n spul ou boeke.

  7. Hi Annemari, ek was so bly toe ek vandag jou blog raakloop. Jou boeke is vir my ‘n groot heerlikheid, dankie vir ure se genot (en ‘n paar vaak dae na nagte van te laat lees!). Hoe wonderlik dat jy jou dagboeke gehou het. Dit moet heerlik wees om op terug te kan loop op jou spore. My tienerdagboek was ‘n kortstondige eksperiment. My ma het dit onder my matras gekry en in rooi pen vir my kommentaar geskryf. Ek het op 31 – na haar dood – eers begin dagboek hou. En begin skryf ook. My dogters hou dagboek. Die oudste, Maja, is 13 en het al ‘n stapel van amper 30 volgeskryfde dagboeke! Watter ongelooflike bron van inspirasie vir latere skryfwerk. Dis presies soos jy skryf, mens vergeet later die intensiteit van emosie as jy dit nie neerskryf nie. En dit is darem so terapeuties en helend.

    • Baie dankie, Amelia. Dis nou lekker om sulke positiewe kommentaar te kry!

      Ongelukkig het ek ook nie altyd dagboek gehou nie. Wanneer mens gelukkig is en alles goed gaan, sien jy mos nie die nut in van dagboek hou nie.

      Knap gedaan vir jou en vir jou dogters! Baie dankie vir die inloer.

  8. Ek kon nog nooit die dagboek ding doen nie. My lewe is bloot te vervelig om neer te skryf wat nog om dit weer te lees. Buitendien is ek nie juis iemand vir my eie emosies en geite nie.

    Maar – ek het al ‘n keer of wat ‘n tantrum op die blog gegooi. Wat mense sekerlik laat skater het – insluitende vir my wanneer ek afgekoel het. Mense se vloermoere is gewoonlik skreeusnaaks, seker veral omdat hulle dit deurdrenk is met beeldspraak wat heeltemal onsinnig is.

    Verder is ek hopeloos te lui vir ‘n boek skryf.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Connecting to %s

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.

%d bloggers like this: