Hoe skryf ʼn mens humoristies sonder om die perke van goeie smaak en welvoeglikheid te oorskry? Wat is regtig snaaks? Dis moeilik om te definieer, want wat vir een persoon laat lê van die lag, is vir ʼn ander pure lawwigheid.
Goeie raad is om nie oorboord te gaan met enigiets nie. Daar is min leesstof so irriterend as ʼn skrywer wat so behep is met sy eie spitsvondigheid dat hy nie weet wanneer om op te hou om die humor in ʼn situasie te melk nie.
Is daar enige lewenssituasie wat nie deur ʼn skrywer opgehelder kan word met ʼn geïnspireerde ligte oomblik nie? Nie dat mens enigsins spot met siekte of die dood nie, maar my ervaring is dat die menslike gees selfs in die diepste, donkerste ellende die behoefte aan humor het. Miskien juis dan, want dit is tog al bewys dat om te lag liggaamlike en geestelike genesing bring. In die saal waar pasiënte chemoterapie kry is die atmosfeer dikwels opgeruimd en word die stoutste grappe vertel.
Wat my lagspiere prikkel is die skerpsinnige opmerkings wat mense dikwels kwytraak, eerder as grappe wat ek in elk geval nie kan onthou nie of waarvan ek altyd die “punch line” opmors. Ek skryf dit neer en het al daarvan in my romans gebruik. Soms verspreek andertaliges hulleself of druk hulself moeilik uit en die juweeltjies wat hulle kwytraak is ook bruikbaar. Ek veronderstel skrywers van Engelse romans hou ook aantekeningboeke byderhand om ons flaters in neer te pen. Een skrywer wat ek raakgelees het, praat van haar “swipe file.” Is dit verkeerd om mense af te luister, veral wanneer hulle luidkeels hul doen en late op hulle selfone uitblaker?
Een aand tydens ʼn algemene vergadering van die eienaars van ons deeltitelkompleks, het die deeltitelbestuurder die volgende kwytgeraak:
- Wat daar aangaan, sal net hy nugter weet.
- Ons was noodgedwonge gewees om …
- Die opsigter is nog siek, maar Japie staan sy pos viervoetig in.
- Omdat die Forum hom goeddoen vanaand, wil ek dit aan julle voorlê.
- Hulle het hom steeds sy Augustus salaris toeverdien.
(Ek het kopiereg daarop, want ek het dit met my persoonlike ore aangehoor.)
En nou gaan ek gou viervoetig in my pos staan.
Comments on: "Humor" (16)
Toe Darren Scott nog op die radio was het hy eendag die woord “skootbo” gebruik – laptop.
Was vir my die snaaksste ding ooit
En ek hou van daai woord – spitsvondigheid – so min mense praat meer ordentlike Afrikaans – hierdie is vir my ‘n riem onder die hart
Hahaha vir skootbo. Maar dis ook nogal vindingryk – om jou te beindruk met nog ‘n “ordentlike” woord! Dankie vir jou kommentaar, ghia.
Dankie
Doe so voort – dis die enigste manier wat ons taal sal oorleef…
Die boeke wat ek die langste onthou, is die boeke wat my laat lag het, selfs al was die deurlopende tema dalk dramaties of hartseer. Ek is gek na nuwe Afrikaanse woorde. Ons het so ‘n mooi taal
Jy is reg. ‘n Bietjie humor kikker die grootste swaarkry ‘n bietjie op. Dan kan mens die swaarkry met lekkerkry klaarkry, soos (ek dink) Langenhoven gesê het.
Ek stem – ons het ‘n dinamiese taal wat daagliks groei. Snaaks hoe subjektief humor is. Partykeer lê ek van die lag oor iets wat ek in ‘n boek lees, en dan vind my genoot in die eg dit nie eens snaaks genoeg om een mondhoek voor te lig nie. Ander goed amuseer hom weer.
Ek hou van sos effense awerese humor. Sug… ongelukkig verstaan ek nie altyd al die grappies nie
Hehehe. Is jy ook so? Partykeer lag ek saam en vra skelm daarna vir iemand om vir my die grap uit te lê.
soms verskaf die onverwagte lag meer as net genot!
Jy’s reg, Freddie. ‘n Onverwagte lag kan ‘n mens goed in die knyp hê.
Een van my grootste karakterfoute / eienaardighede (afhangend hoe en wie daarna kyk), is dat die kleinste, simpelste goed my oneindig amuseer. Ek sien dus gewoonlik humor waar niemand anders dit sien of waardeer nie.
Dis ongetwyfeld ‘n voordeel om die snaakse in alles te sien, want om te lag is mos goed vir ‘n mens se gesondheid.
Ek kan my partykeer moeg lag vir die simpelste goed, die giggelrasies kry soos in die kerk as mens nie mag lag nie.
Ek hou van droeë humor. Ook van skerp humor.
Ek is altyd vies vir myself as ek die gigelrasies (oulike woord) kry waar ‘n mens nie kan lag nie, want dan word ‘n goeie laggeleentheid opgemors. Dankie vir jou kommentaar.
Ek vind myself mos verskriklik amusant. En soms sê ek goed wat ek regtig net gedink het. Maar dan borrel dit so uit. Ek het al geleer dat ek dalk nie soos ander dink nie, maar dat dit darem nie verkeerd is nie. My humorsin is verskriklik. Ek kan ongelooflik vir myself lag. Of ek dit nou hardop en op my eie doen of in ‘n groep, lag die sal ek mos nou doen. Die enigste ding wat ek nie amusant vind nie, is verskriklike vieslike sarkastiese kommentaar wat sommige mense as humoristies aansien. Indien iemand seergemaak gaan voel, is dit net verkeerd.
My baas het so 2 weke terug ‘n ligte hartaanval gehad. Verlede jaar, toe ons die kantore betrek het en die besigheid van sy voete begin kry het, het sy ma vir hom so ‘n mooi plant vir sy kantoor gegee. Ek het dit so oorwater dat die arme plant net moed opgegee en gevrek het.
So gaan besoek ek my baas in die hospitaal en koop vir hom ‘n plaasvervangerplant. En ja, moes ek toe mos die besoek open met: Hans ek het juis met my groen vingers jou plant laat vrek maar hier is ‘n plaasvervanger vir jou. En niks, niks wat ek van daardie oomblik af gesê het, was enigsins korrek nie. Ek het konstant oor my eie tong geval. Toe ek uitstap kon ek en sy vrou nie help as om vir my te lag nie. Gelukkig weet sy ek is nie ‘n onsensitiewe persoon nie, en dat dit nie opsetlik was nie.
Ek wens ek kon so lekker lag dat dit uitborrel. My lag is gewoonlik binnetoe en wanneer ek die dag lekker lag, loop die trane sommer dadelik.
Dankie dat jy kom inloer het. Hou aan lag!