Die plek waar ek die groot trom slaan oor boeke, skryf, lees, Afrikaans en reis

My wederhelf hou nie van onbeplande trippies nie. Sy idee van geluk op die lang pad is om ons roete vooraf op die GPS in te sleutel. Dan kan hy tevrede wees in die wete dat Miss Florence Nightingale met haar soet stemmetjie nie histeriese herberekenings sal moet maak nie.

Vir die wis, die onwis – en  die paddavis – vat ons gewoonlik ook ons AA padkaarte saam. Hy dink ek weet nie daarvan nie, maar hy beloer boonop uit Google-Earth se hoogtes elke dal, bergreeks en bospaadjie nog lank voor ons in die pad val. Ons bespreek vooraf verblyf by al die plekke op ons roete waar daar miskien ʼn toeloop van toeriste mag wees. Hy is die bestuurder en ons veiligheid hang van hom af. Ek kla nie. Op my eie gaan ek tog nie rondreis nie.

So het ons dus met Clarens gemaak toe ons die naweek gaan kyk het hoe geel die populiere nou is.  Ge-Florence Nightingale sodat sy met haar lampie ons pad kan verlig, vooraf plek bespreek, deposito’s betaal, ens. Die naweek het ons duisende foto’s geneem, gekuier, geëet – al’s te lekker.

Toe praat ek hom om dat ons die duisterhede van Lesotho moet aandurf. Ons twee was nog nooit daar nie. So ry ons onbeplan (ons het hierdie keer ook die kaartboeke by die huis vergeet) deur die Caledon grenspos. Dit gaan klopdisselboom. Nog nooit is ons so vinnig deur ʼn grenspos nie. Florence wikkel met ons teen die Motengpas op. Basoetomans ry met kleurryke komberse op hul ponies. Die klank van skape se klokke weerklink in die Valley of Hope.

Ons oornag in die New Oxbow Lodge  heelbo op die berg. Dis bitter koud. Ons twee is die enigste gaste. Onweerswolke maak die lug donker. Skielik breek die son deur die reën in daardie matelose mooi lig wat mens soms kry net voor die son ondergaan. Ons staan op ons klein balkon en neem foto’s dat dit klap van die reënboog. Twee minute, toe is dit verby.  Op die terugreis was daar mis hoog in die berge.

Die enigste vlieg in die apteker se salf was die dik-gesig, smalende polisieman wat ons met ʼn soort van padblokkade net voor Butha-Buthe  in ʼn val gelok en probeer afpers het. Maar my man laat hom nie afpers nie en die ou het ons kopskuddend en met leë hande laat gaan.

Ons beplan alweer ons volgende trippie.

Comments on: "Herfs" (20)

  1. Pragtige fotos! En ‘n wonderlike deel van die land wat julle besoek het!

  2. ek is nogal iemand vir sulke onbeplande dinge. Ek is seker julle het dit baie geniet.

  3. Daar is nog so baie plekke in SA waar ek nog by moet uitkom eendag. En Clarens is hoog aan die lysie!!
    pragtige foto’s A ;-)

  4. [...] Herfs « Annemari Coetser. [...]

  5. Daardie laaste foto is ongelooflik.

    Ek het gewoonlik ‘n beplanningslysie van wat ek met ‘n trip wil doen. Die probleem is dat dit elke 5 km aangepas word. Ek ly mos aan ongeneeslike nuuskierigheid (nie dat ek ly nie, maar ander doen wel agv van my nuuskierigheid). Dus die vae lyne is daar, maar dit werk nooit net so uit nie.

    Ek reis gewoonlik net met ‘n vae idee van waar iets is. Kyk dalk op Google maps hoe om te ry, maar foeter sonder GPS en kaarte op die pad. Werk baie goed uit.

    • Dankie. Die kleur op wordpress is nie eens naastenby so mooi soos op die foto self nie.

      Dis goed om soos jy te reis. ‘n Plan, maar met ruimte om spontaan te wees. Ek sou ook graag wou, maar omdat my reisgenoot dit anders verkies, moet ons maar albei aanpas.

  6. Was ook daar, `n tyd gelede. Is pragtig. Jou fotos is baie mooi. Die een met die heining en geel bome wil my weer na die kwas laat gryp.

    • Hallo Louwie. Ja, dis seker ‘n voorreg om daar te bly, ten spyte van die koue. Dankie vir die kompliment. ‘n Paar jaar gelede het ek in die Oos-Kaap ook ‘n hek met drie populiere afgeneem en dit toe geskilder. Dit vergaan darem nie so gou soos die herfsblare nie.

      Gryp die kwas, toe!

  7. Ek en my manlief is lief vir ry en ry en ry….. Ek dink ek het hom geleer want dis in my familie se gene. Ons ry onbeplan, soms sonder ‘n kaart, sommer net agter ons neuse aan. Het dit nou ook weer gedoen in aussieland, 2 dae sommer net gery, slaapplek gesoek in die dorp waar ons beland… Lekker!
    Vertel nog!

    • Ons draai darem ook graag by onbekende plaaspaaie in en het so al die mooiste plekke ontdek. Dis ook in my gene. My pa was ook lief daarvoor om elke vakansie na ‘n ander plek te ry.

      Dis heerlik om dit te doen soos julle nou gemaak het. Solank mens nie stres oor die slaapplek nie.

      Ons land is so mooi en uitgestrek – daar is altyd nog nuwe paaie om te ontdek.

  8. Mens, dit moet heerlik wees om so te kan kuier en toer!! Geniet dit. En fantasties dat daardie afpersing nie gewerk het nie.

    • Dankie – dit is baie lekker om so te kan rondry. Snaaks genoeg is dit die eerste keer wat ons afgepers is, maar ons het goed genoeg geweet wat hy bedoel toe hy vra wat ons daaromtrent gaan doen en later dreig dat hy man gaan arresteer. Kroeks!

  9. Flenters said:

    Dis my wereld daai – geel populiere wat geleidelik goud verkleur

  10. Ek het vanaand gehoor van iemand wat altyd op sy beste Afrikaans antwoord “Ek verstaan nie” Dit werk glo elke keer. Hulle laat hom eerder ry as om te verduidelik wat hulle wil hê. Ek hou nie van bestuur nie, maar is ‘n goeie passasier. Homer hou by sy reisplan. Glo my die spontaanste ding wat hy op reis sal doen, is om te stop vir ete.

  11. Dis dalk ‘n plan om Afrikaans te praat, maar die ou was al erg ongelukkig omdat ons hom in Engels gegroet het. Hy het gemaan: “Dumela! Dumela!, nog good morning,” en sy neus amper teen my man s’n gedruk. Gelukkig het my man kalm gebly. Hy het eenkeer begin met “It’s no big deal” maar toe knyp ek sy bobeen, want vir die verkeersman was dit waarskynlik ‘n “big deal.”

    Hahaha. Hoe hou jy dit met uit met soveel uitbundige spontaniteit?!

  12. Ek’s skoon jaloers oor julle lekker trippie. Ek’s wel bly dat ekselwers nog nooit ‘n dik-gesig omkoper in my wandelinge raakgewandel het nie. O ja, jy’s genomineer vir die Kreative Blogger Award. Gaan koekeloer bietjie na my nuutste inskrywing vir meer detail.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Connecting to %s

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.

%d bloggers like this: