Die plek waar ek die groot trom slaan oor boeke, skryf, lees, Afrikaans en reis

Archive for the ‘In Kort Trekke’ Category

Kompartemente

My brein bestaan blykbaar uit ‘n klomp kamers. Elke kamer verteenwoordig ‘n belangstelling of aktiwiteit.  Skynbaar het ek net die vermoë om een kamer op ‘n keer te beset. Wanneer ek in daardie kamer is, kuier ek so lekker dat ek die deur toetrek en vergeet van die ander vertrekke.

Help! Ek verswelg in my goeie voornemens. Sedert ek weer begin blog het, het ek nog nie ‘n dooie woord verder aan my manuskrip geskryf nie. ‘n Mens kry mos ‘n kennisgewing dat iemand ‘n nuwe inskrywing gemaak het en goeie volgeling wat ek is,  gaan lees ek dit dadelik. Daar is soveel interessante mense wat hier blog wat opbouend/vermaaklik/leersaam/ hoe ook al skryf. Dit voel asof ek saam met ou vriende kuier. Die foto’s is pragtig en die beskrywings van verre lande maak my lus om my tas te pak.

Dit doen ons ook gereeld. Binnekort gaan ons  Namibië toe.

Ek groet vir eers. Dankie vir die saamkuier. Moenie dit persoonlik opneem dat ek jou as volgeling van my blog verwyder het, of omdat ek nie meer kommentaar by jou blog lewer nie.

Humor

Hoe skryf ʼn mens humoristies sonder om die perke van goeie smaak en welvoeglikheid te oorskry? Wat is regtig snaaks? Dis moeilik om te definieer, want wat vir een persoon laat lê van die lag, is vir ʼn ander pure lawwigheid.

Goeie raad is om nie oorboord te gaan met enigiets nie. Daar is min leesstof so irriterend as ʼn skrywer wat so behep is met sy eie spitsvondigheid dat hy nie weet wanneer om op te hou om die humor in ʼn situasie te melk nie.

Is daar enige lewenssituasie wat nie deur ʼn skrywer opgehelder kan word met ʼn geïnspireerde ligte oomblik nie? Nie dat mens enigsins spot met siekte of die dood nie, maar my ervaring is dat die menslike gees selfs in die diepste, donkerste ellende die behoefte aan humor het. Miskien juis dan, want dit is tog al bewys dat om te lag liggaamlike en geestelike genesing bring. In die saal waar pasiënte chemoterapie kry is die atmosfeer dikwels opgeruimd en word die stoutste grappe vertel.

Wat my lagspiere prikkel is die skerpsinnige opmerkings wat mense dikwels kwytraak, eerder as grappe wat ek in elk geval nie kan onthou nie of waarvan ek altyd die “punch line” opmors. Ek skryf dit neer en het al daarvan in my romans gebruik. Soms verspreek andertaliges hulleself of druk hulself moeilik uit en die juweeltjies wat hulle kwytraak is ook bruikbaar. Ek veronderstel skrywers van Engelse romans hou ook aantekeningboeke byderhand om ons flaters in neer te pen. Een skrywer wat ek raakgelees het, praat van haar “swipe file.” Is dit verkeerd om mense af te luister,  veral wanneer hulle luidkeels hul doen en late op hulle selfone uitblaker?

Een aand tydens ʼn algemene vergadering van die eienaars van ons deeltitelkompleks, het die deeltitelbestuurder die volgende kwytgeraak:

  • Wat daar aangaan, sal net hy nugter weet.
  • Ons was noodgedwonge gewees om …
  • Die opsigter is nog siek, maar Japie staan sy pos viervoetig in.
  • Omdat die Forum hom goeddoen vanaand, wil ek dit aan julle voorlê.
  • Hulle het hom steeds sy Augustus salaris toeverdien.

(Ek het kopiereg daarop, want ek het dit met my persoonlike ore aangehoor.)  :) En nou gaan ek gou viervoetig in my pos staan.

Hartuitstortings op papier

Om my gevoelens op papier neer te pen, is my belangrikste uitlaatklep. Onlangs ontdek ek weer  ʼn dagboek uit my kleintyd. “So baie jare is verby,” skryf ek dramaties op my dertiende verjaarsdag, net na die inskrywing van hoe ek saam met my broers albaster gespeel het.

Deur die jare het die gewoonte my duisende rande bespaar aan rekenings van sielkundiges, huweliksraadgewers en prokureurs, dit glo ek vas. Papier is mos geduldig. En deesdae kan vinnige vingers op rekenaartoetse trauma, woede en hartseer vlytig verwerk.

Die eerste keer toe my hart gebreek is, het dit  ʼn swart hardebandboek vol selfbejammering opgelewer. Dis aangevul met toepaslike aanhalings uit Sy kom met die sekelmaan en soortgelyke lydingsgeskiedenisse. Ek moes die dagboek verbrand toe my volgende kêrel op die toneel verskyn, want ek sou tot in my tone ineengekrimp van skaamte as hy dit sou sien.

‘n Besondere traumatiese tyd in my lewe het ʼn hele manuskrip opgelewer. Genadiglik is dit nooit gepubliseer nie, maar sedertdien het ek bruikbare stukke daaruit gekannibaliseer vir nuwe boeke. Net soos ʼn mens nie die presiese intensiteit van pyn kan onthou nie, so is jy soms by ʼn herlees verbaas oor hoe rou jou emosies was.

Was ek regtig so kwaad soos die aand toe ek in ʼn Word-dokument vuur gespoeg het? En die klagstaat van my naaste en liefstes se oortredings en tekortkomings wat ek verdoesel het tussen my administratiewe dokumente, was dit op die ou end so erg? Ek onthou dan nie eens wat gebeur het nie.

Die pen is nie net magtiger as die swaard nie. As jy so impulsief soos ek is, is dit ook verkieslik. Die enigste probleem is die dag wanneer ek vir altyd oorstap na die kamer langsaan. Miskien moet ek ʼn kodisil in my testament sit: verbrand al my dagboeke, breek my CD’s,  format my rekenaar en behou so julle beeld van my sagmoedigheid.

Of lees die goed, warrehel. Ons is almal net mense.

Afrikaans wat sing

Vandag het ek ‘n nuwe woord en ‘n nuwe frase raakgelees:

Stokmenger

en

silwer swerwers

‘n Stokmenger is die naam vir daardie oulike elektriese affêrinkie wat mens in jou hand hou om blitsig mee soppe, souse en dies meer te meng. Tot dusver het ek die ding ewe onoorspronklik op sy handelnaam genoem.

Silwer swerwers is glo die gryshaargarde bo 50, wat vaardig op die internet rondzits en ‘n goeie teikenmark vir adverteerders bied.

 

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.