Die plek waar ek die groot trom slaan oor boeke, skryf, lees, Afrikaans en reis

Archive for the ‘Vir die lettervreter’ Category

Deurspek

Tydens  ʼn onlangse konferensie is die vraag weer eens gestel: wat is ʼn  tipiese Afrikaanse roman nou eintlik? Dis wat Joan Hambidge nou die aand op RSG tydens die program Skrywers en Boeke gesê  het. Die konferensiegangers het skynbaar ooreengekom dat dit ʼn roman is wat Afrikaanse woorde bevat wat Engelsprekende Suid-Afrikaners nie noodwendig sal ken nie.

Party Engelse skrywers beskik ook oor ʼn skynbaar onuitputlike woordeskat van duistere woorde. Een groot bron van lekkerte van ʼn Kindle is dat mens die betekenis van ʼn onbekende Engelse woord onmiddellik kan naslaan. Algaande leer jy darem, mits jy dit onthou.

Miskien is ek net so opsetlik soos hierdie skrywers, want ek hou ook daarvan om die woorde wat spontaan by my opkom te gebruik. Sommige daarvan is bra verouderd. Ander is streekstaal wat my ouers gebruik het of dis my skoon-ouma se gesegdes wat bly vassteek het, bv. vliekiestuiwer. Dit was haar woord vir daardie taai, rooi lelle wat van ʼn plafon hang en wat elke vlieg inderdaad in sy spore stuit.

Nie dat ek noodwendig “boektaal” wil “besig” of deftig wil praat nie. Ek voel dit net aan my moedertaal verskuldig om van ons pragtige idiome, skertsende woorde en neologismes nie verlore te laat gaan nie. Daar is mos heerlike woorde soos bv. kuierkoop, watsenaam en vuilbaard wat in geselstaal gebruik word en wat amper onvertaalbaar is.

As ons skrywers nie daarmee gaan vasbyt nie, gaan amazing, nice, cool en awesome binnekort ons enigste byvoeglike naamwoorde en bywoorde wees.

Oh, my word!  Maar dan sal dit seker nie meer nodig wees om die definisie vir ʼn tipiese Afrikaanse roman te soek nie. Enige Engelse leser sal die brabbeltaal easy-peasy verstaan. Dit sal myns insiens ʼn treurige dag wees.

Gieljam

Gieljam in die golwe

Ek weet nie of iemand anders al ooit van G. Sutherland gehoor het nie, maar ek is mal oor sy boeke. My gunsteling is Gieljam in die golwe : ʼn roman. Dit is reeds in 1949 uitgegee.

Hy het die wonderlikste sin vir humor (gehad?) Verskeie van sy kortverhale het ook in tydskrifte verskyn. Toe my seun as tiener net so gaande oor hom was en ek gehoor het dat hy in Pretoria bly, het ek speurder gespeel. Die tweede Sutherland in die telefoonboek het my sy nommer gegee.

Hy was toe reeds bejaard en verskriklik ingenome daarmee dat ek hom gebel het. Ek dink ek het sy week gemaak. Skrywers is maar weerlose dierasies wat ‘n opregte kompliment waardeer.

Ek besit, behalwe Gieljam, ook Lenteliefde. Jaar van publikasie onbekend, maar daar is ʼn advertensie vir Calvita Gesigspommade op die eerste bladsy: Stel u gelaatskleur u gerus? vra hulle nuuskierig. Agter in die boek is ʼn advertensie vir Voorpos se skoonheidswedstryd en een vir ʼn Maandblad met Persoonlikheid,  Transafrika.

Avonture tussen mure is in 1979 deur Daan Retief uitgegee en dis juis met die lees daarvan dat my seun hom ook ontdek het.

ʼn Internetsoektog oor Sutherland lewer niks op nie. Weet enigiemand iets van hom? Ek sal wat gee om nog van sy boeke te lees.

(‘n Ander weergawe van hierdie skrywe het voorheen in Boekemakranka verskyn.)

Boererate

Vir my vorige boeke het ek navorsing gedoen. Om feite in te samel vir die historiese roman wat ek nou skryf, voel egter meer na ʼn speurtog. Die verhaal begin aan die einde van die negentiende eeu en eindig in 1944. Dus moes ek tjop-tjop ʼn hele klomp goed oor hierdie era uitvind, want ek is gelukkig om te sê dat ek darem nie in daardie tyd geleef het nie. :)

Boererate het my nog altyd geïnteresseer en ek gebruik daarom een of twee in ʼn toepaslike gedeelte van die manuskrip. My ma het ʼn ou resepteboek gehad waarop die woord “Lekkerkos” in kursiewe swart letters skuinsoor die rooi omslag gedruk was. Ek het grootgeword met hierdie boek en is nou die trotse eienaar daarvan.

As kinders het ons die boererate agter in die boek skreeusnaaks gevind. Hier volg die raad vir “Spelde geslik deur kinders.” Skynbaar was dit ʼn algemene tendens in 1931 vir kinders om spelde te “slik.” Die raad is waarskynlik steeds van toepassing op kleremakers met hierdie neiging.

“ʼn Speld word soms geslik deur kinders en die verpleging moet bestaan om die speld deur die ingewande te laat passeer. Met dié doel moet ʼn groot kwantiteit ertappels gegee word en nie ander voedsel nie, totdat die speld gepasseer het. Moenie purgeermiddels gee nie.”

Dit maak sin. Dit val my by dat Dirk Kamfer in sy boek Die Elfde Uur, in 1962 deur Tafelberg uitgegee, boererate uit mev. Dijkman se beroemde kookboek aangehaal het. Ek gaan soek die boek op my boekrak.

Een boereraat lui:

Teen Wirms: Di aand tevore niks eet ni, om di wuirms uit te honger, dan smorrens op di nugter maag ʼn stukki brood in di mond neem, om hulle na bowe te lok, maar niks insluk nie; dan ʼn sopie brandewyn inneem om hulle dronk te maak; en dan ʼn jalap pergasi inneem om di wirms te lat uitwerk.”

Daaronder volg Dirk se kommentaar: Ghoebaai, wirms – julle het jul sleg laat verneuk!

My geërfde resepteboek het nie meer ʼn titelbladsy nie. Om die boek as bron in my manuskrip te aandui, lewer toe ʼn nuwe speurtog op. Gelukkig kom ek op die internet op ʼn artikel af in Die Beeld van 28 November 1996, geskryf deur Dr. Jan van Elfen, waar hy o.a. ou resepteboeke bespreek.

Daar lees ek toe vir die eerste keer my kosbare boek se volledige titel raak: Lekkerkos, kook-, koek-, resepte- en koekversierselboek deur ʼn Praktiese Huisvrou van Zastron. ʼn Hele mondvol. Dis in 1931 deur HAUM uitgegee. Die praktiese huisvrou was ene mev. Van Tulleken van Zastron.

Net waar sy plek kon kry, het my moeder in hierdie boek haar eie reseppies met ʼn “indelible” potlood geskryf. Tussen die praktiese tante se Raad vir Sweterige Voete en haar Geneeskundige Voorskrifte verskyn my ma se resep Vir Galsiek.

Ek wens ek het, toe ek onlangs te veel ryk kos geëet het, daaraan gedink om 1 koppie suiker, 1 gelling water, 1 koekie blousel en 1 bottel asyn te meng en te drink, maar ek vermoed die resep was vir iemand anders  bedoel.

 

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.