Die plek waar ek die groot trom slaan oor boeke, skryf, lees, Afrikaans en reis

Posts tagged ‘Annemari Coetser’

Deurspek

Tydens  ʼn onlangse konferensie is die vraag weer eens gestel: wat is ʼn  tipiese Afrikaanse roman nou eintlik? Dis wat Joan Hambidge nou die aand op RSG tydens die program Skrywers en Boeke gesê  het. Die konferensiegangers het skynbaar ooreengekom dat dit ʼn roman is wat Afrikaanse woorde bevat wat Engelsprekende Suid-Afrikaners nie noodwendig sal ken nie.

Party Engelse skrywers beskik ook oor ʼn skynbaar onuitputlike woordeskat van duistere woorde. Een groot bron van lekkerte van ʼn Kindle is dat mens die betekenis van ʼn onbekende Engelse woord onmiddellik kan naslaan. Algaande leer jy darem, mits jy dit onthou.

Miskien is ek net so opsetlik soos hierdie skrywers, want ek hou ook daarvan om die woorde wat spontaan by my opkom te gebruik. Sommige daarvan is bra verouderd. Ander is streekstaal wat my ouers gebruik het of dis my skoon-ouma se gesegdes wat bly vassteek het, bv. vliekiestuiwer. Dit was haar woord vir daardie taai, rooi lelle wat van ʼn plafon hang en wat elke vlieg inderdaad in sy spore stuit.

Nie dat ek noodwendig “boektaal” wil “besig” of deftig wil praat nie. Ek voel dit net aan my moedertaal verskuldig om van ons pragtige idiome, skertsende woorde en neologismes nie verlore te laat gaan nie. Daar is mos heerlike woorde soos bv. kuierkoop, watsenaam en vuilbaard wat in geselstaal gebruik word en wat amper onvertaalbaar is.

As ons skrywers nie daarmee gaan vasbyt nie, gaan amazing, nice, cool en awesome binnekort ons enigste byvoeglike naamwoorde en bywoorde wees.

Oh, my word!  Maar dan sal dit seker nie meer nodig wees om die definisie vir ʼn tipiese Afrikaanse roman te soek nie. Enige Engelse leser sal die brabbeltaal easy-peasy verstaan. Dit sal myns insiens ʼn treurige dag wees.

Resensie van Die Kamer Langsaan

Hierdie resensie het in vandag in Rapport verskyn:

Verhoudings so broos soos fyn porselein

2012-04-14 12:41

 Foto’s   ·   Lesersfoto’s   ·   Nuus in Foto’s Stuur vir ons jou foto’s  ·  Stuur vir ons jou foto’s

Nini Bennett

Die kamer langsaan deur Annemari Coetser. Uitgewer: Lapa. Prys: R170

Uit Annemari Coetser se pen het Oop kaarte (2007), Langverlof (2008) en Aan die windkant (2009) al verskyn. In Die kamer langsaan, haar jongste roman, eksperimenteer sy met die verhouding tussen werklikheid en fiksie.

Die hoofkarakter, Donné, pak haar tasse ná ’n rusie met haar man, huur ’n meenthuis en besluit om haar debuutroman te skryf. Die eienaar van dié huis, Theresa, en haar 93-jarige ma, Susan, huur op hul beurt ’n kamer in ’n ouetehuis.

Donné se verbeelding word geprikkel: In haar roman skep sy ’n verbeelde werklikheid om Theresa en haar ma. Uit skinderbrokkies van ’n buurvrou kom Donné agter sy beweeg ontstellend na aan die waarheid.

Die roman is ’n deernisvolle kyk op ’n moeder-dogter-verhouding, huweliksontrou en depressie. Theresa meen sy is deur Susan gemanipuleer en het daarom nie met die liefde van haar lewe, Gerhard, getrou nie. Susan was op haar beurt weer ’n slagoffer van gesinsgeweld en het geglo sy tree in haar dogter se belang op deur haar teen mans te “beskerm” (en van Gerhard te vervreem).

Intussen smeek Donné se man haar om terug huis toe te kom. Deur tegnieke van inbedding word die grens tussen werklikheid en fiksie oorgesteek en beweeg die outeur seepglad tussen die verbeelde en reële karakters totdat die werk eindelik opgehef word as fiksie.

Die kamer langsaan word ’n simbool van die dood en Coetser waarsku dat mens moet waak teen morele oordele, want verhoudings is broos.

Deurlopend word kommentaar gelewer oor die skryfproses en skrywer-wees, dat sommige skrywers fyn waarnemers én voyeurs, is en dat skrywerskap omsigtigheid en integriteit verg.

Die kamer langsaan is ’n vars en eerlike roman. Dit is jammer dat die karakterontwikkeling van Susan effe eendimensioneel bly (die terugflitse na haar moeilike kinderjare op bl. 155-156 kon byvoorbeeld meer momentum gekry het in pas met haar latere selfsugtige optrede).

Coetser skryf nietemin humoristies en gevat, soos op bl. 151:

“Hy is een van die mees katoolse ou mans wat sy gesien het. Op sy dae was hy seker aantreklik, maar nou gril sy vir sy tande wat net hier en daar soos ’n mieliestronkmisoes in sy pienk tandvleise pronk.”

Die kamer langsaan is ’n toeganklike werk met heelwat pitkos.

Gieljam

Gieljam in die golwe

Ek weet nie of iemand anders al ooit van G. Sutherland gehoor het nie, maar ek is mal oor sy boeke. My gunsteling is Gieljam in die golwe : ʼn roman. Dit is reeds in 1949 uitgegee.

Hy het die wonderlikste sin vir humor (gehad?) Verskeie van sy kortverhale het ook in tydskrifte verskyn. Toe my seun as tiener net so gaande oor hom was en ek gehoor het dat hy in Pretoria bly, het ek speurder gespeel. Die tweede Sutherland in die telefoonboek het my sy nommer gegee.

Hy was toe reeds bejaard en verskriklik ingenome daarmee dat ek hom gebel het. Ek dink ek het sy week gemaak. Skrywers is maar weerlose dierasies wat ‘n opregte kompliment waardeer.

Ek besit, behalwe Gieljam, ook Lenteliefde. Jaar van publikasie onbekend, maar daar is ʼn advertensie vir Calvita Gesigspommade op die eerste bladsy: Stel u gelaatskleur u gerus? vra hulle nuuskierig. Agter in die boek is ʼn advertensie vir Voorpos se skoonheidswedstryd en een vir ʼn Maandblad met Persoonlikheid,  Transafrika.

Avonture tussen mure is in 1979 deur Daan Retief uitgegee en dis juis met die lees daarvan dat my seun hom ook ontdek het.

ʼn Internetsoektog oor Sutherland lewer niks op nie. Weet enigiemand iets van hom? Ek sal wat gee om nog van sy boeke te lees.

(‘n Ander weergawe van hierdie skrywe het voorheen in Boekemakranka verskyn.)

Hartuitstortings op papier

Om my gevoelens op papier neer te pen, is my belangrikste uitlaatklep. Onlangs ontdek ek weer  ʼn dagboek uit my kleintyd. “So baie jare is verby,” skryf ek dramaties op my dertiende verjaarsdag, net na die inskrywing van hoe ek saam met my broers albaster gespeel het.

Deur die jare het die gewoonte my duisende rande bespaar aan rekenings van sielkundiges, huweliksraadgewers en prokureurs, dit glo ek vas. Papier is mos geduldig. En deesdae kan vinnige vingers op rekenaartoetse trauma, woede en hartseer vlytig verwerk.

Die eerste keer toe my hart gebreek is, het dit  ʼn swart hardebandboek vol selfbejammering opgelewer. Dis aangevul met toepaslike aanhalings uit Sy kom met die sekelmaan en soortgelyke lydingsgeskiedenisse. Ek moes die dagboek verbrand toe my volgende kêrel op die toneel verskyn, want ek sou tot in my tone ineengekrimp van skaamte as hy dit sou sien.

‘n Besondere traumatiese tyd in my lewe het ʼn hele manuskrip opgelewer. Genadiglik is dit nooit gepubliseer nie, maar sedertdien het ek bruikbare stukke daaruit gekannibaliseer vir nuwe boeke. Net soos ʼn mens nie die presiese intensiteit van pyn kan onthou nie, so is jy soms by ʼn herlees verbaas oor hoe rou jou emosies was.

Was ek regtig so kwaad soos die aand toe ek in ʼn Word-dokument vuur gespoeg het? En die klagstaat van my naaste en liefstes se oortredings en tekortkomings wat ek verdoesel het tussen my administratiewe dokumente, was dit op die ou end so erg? Ek onthou dan nie eens wat gebeur het nie.

Die pen is nie net magtiger as die swaard nie. As jy so impulsief soos ek is, is dit ook verkieslik. Die enigste probleem is die dag wanneer ek vir altyd oorstap na die kamer langsaan. Miskien moet ek ʼn kodisil in my testament sit: verbrand al my dagboeke, breek my CD’s,  format my rekenaar en behou so julle beeld van my sagmoedigheid.

Of lees die goed, warrehel. Ons is almal net mense.

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.