Die plek waar ek die groot trom slaan oor boeke, skryf, lees, Afrikaans en reis

Posts tagged ‘brabbeltaal’

Deurspek

Tydens  ʼn onlangse konferensie is die vraag weer eens gestel: wat is ʼn  tipiese Afrikaanse roman nou eintlik? Dis wat Joan Hambidge nou die aand op RSG tydens die program Skrywers en Boeke gesê  het. Die konferensiegangers het skynbaar ooreengekom dat dit ʼn roman is wat Afrikaanse woorde bevat wat Engelsprekende Suid-Afrikaners nie noodwendig sal ken nie.

Party Engelse skrywers beskik ook oor ʼn skynbaar onuitputlike woordeskat van duistere woorde. Een groot bron van lekkerte van ʼn Kindle is dat mens die betekenis van ʼn onbekende Engelse woord onmiddellik kan naslaan. Algaande leer jy darem, mits jy dit onthou.

Miskien is ek net so opsetlik soos hierdie skrywers, want ek hou ook daarvan om die woorde wat spontaan by my opkom te gebruik. Sommige daarvan is bra verouderd. Ander is streekstaal wat my ouers gebruik het of dis my skoon-ouma se gesegdes wat bly vassteek het, bv. vliekiestuiwer. Dit was haar woord vir daardie taai, rooi lelle wat van ʼn plafon hang en wat elke vlieg inderdaad in sy spore stuit.

Nie dat ek noodwendig “boektaal” wil “besig” of deftig wil praat nie. Ek voel dit net aan my moedertaal verskuldig om van ons pragtige idiome, skertsende woorde en neologismes nie verlore te laat gaan nie. Daar is mos heerlike woorde soos bv. kuierkoop, watsenaam en vuilbaard wat in geselstaal gebruik word en wat amper onvertaalbaar is.

As ons skrywers nie daarmee gaan vasbyt nie, gaan amazing, nice, cool en awesome binnekort ons enigste byvoeglike naamwoorde en bywoorde wees.

Oh, my word!  Maar dan sal dit seker nie meer nodig wees om die definisie vir ʼn tipiese Afrikaanse roman te soek nie. Enige Engelse leser sal die brabbeltaal easy-peasy verstaan. Dit sal myns insiens ʼn treurige dag wees.

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.