Die plek waar ek die groot trom slaan oor boeke, skryf, lees, Afrikaans en reis

Posts tagged ‘Dagboek’

Hartuitstortings op papier

Om my gevoelens op papier neer te pen, is my belangrikste uitlaatklep. Onlangs ontdek ek weer  ʼn dagboek uit my kleintyd. “So baie jare is verby,” skryf ek dramaties op my dertiende verjaarsdag, net na die inskrywing van hoe ek saam met my broers albaster gespeel het.

Deur die jare het die gewoonte my duisende rande bespaar aan rekenings van sielkundiges, huweliksraadgewers en prokureurs, dit glo ek vas. Papier is mos geduldig. En deesdae kan vinnige vingers op rekenaartoetse trauma, woede en hartseer vlytig verwerk.

Die eerste keer toe my hart gebreek is, het dit  ʼn swart hardebandboek vol selfbejammering opgelewer. Dis aangevul met toepaslike aanhalings uit Sy kom met die sekelmaan en soortgelyke lydingsgeskiedenisse. Ek moes die dagboek verbrand toe my volgende kêrel op die toneel verskyn, want ek sou tot in my tone ineengekrimp van skaamte as hy dit sou sien.

‘n Besondere traumatiese tyd in my lewe het ʼn hele manuskrip opgelewer. Genadiglik is dit nooit gepubliseer nie, maar sedertdien het ek bruikbare stukke daaruit gekannibaliseer vir nuwe boeke. Net soos ʼn mens nie die presiese intensiteit van pyn kan onthou nie, so is jy soms by ʼn herlees verbaas oor hoe rou jou emosies was.

Was ek regtig so kwaad soos die aand toe ek in ʼn Word-dokument vuur gespoeg het? En die klagstaat van my naaste en liefstes se oortredings en tekortkomings wat ek verdoesel het tussen my administratiewe dokumente, was dit op die ou end so erg? Ek onthou dan nie eens wat gebeur het nie.

Die pen is nie net magtiger as die swaard nie. As jy so impulsief soos ek is, is dit ook verkieslik. Die enigste probleem is die dag wanneer ek vir altyd oorstap na die kamer langsaan. Miskien moet ek ʼn kodisil in my testament sit: verbrand al my dagboeke, breek my CD’s,  format my rekenaar en behou so julle beeld van my sagmoedigheid.

Of lees die goed, warrehel. Ons is almal net mense.

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.