Die Kamer Langsaan
My nuutste boek, Die kamer langsaan, is nou beskikbaar. Ek het dit in Brooklyn se CNA op die rak gesien en ook in Exclusive Books.
Dis vir my ʼn groot verrassing en ʼn nog groter lekkerte dat Die kamer langsaan gekies is as LAPA se Lekkerlit boek vir Maart. (Die Lekkerlit-projek duur vir 10 maande; elke maand word ‘n boek gekies en op die webwerf bespreek. Daar gaan ook vrae vir Leeskringe wees. Lesers kan ‘n kompetisievraag oor die boek beantwoord en elke maand R1 000 wen. Na die 10 maande stem lesers vir die beste lekkerlit-boek van die jaar. Die wen-boek se outeur ontang R10 000, en een leser wen ook R10 000.)
Gaan kyk gerus op LAPA se webwerf wat daar alles aangaan. http://www.lapa.co.za
In Maart se Rooi Rose verskyn dit ook as die boek van die maand. Ek is baie opgewonde oor hierdie boek. Die omslag is pragtig en sal aandag trek op boekwinkels se rakke. Nie alleen is die tema ʼn bietjie ernstiger as my vorige boeke nie, maar die aanloop na die skryf daarvan was moeiliker. ʼn Mens sou dink dat ek al ʼn bietjie gekonfyt sou wees om kontrasterings in ʼn roman te gebruik, want ek het dit ook in Oop Kaarte gedoen. Maar elke nuwe boek bring nuwe uitdagings.
Ek het voorheen geskryf oor die NaNoWriMo-projek waaraan ek deelgeneem het. (National Novel Writing Month, ʼn poging om ʼn roman van ten minste 50 000 woorde in die maand November te voltooi saam met duisende ander skryflustiges van oor die hele wêreld.) Die kamer langsaan se plot was reeds klaar. Dié het ek baseer op The snowflake method, uitgedink deur Randy Ingermanson. (http://www.advancedfictionwriting.com/art/snowflake.php)
Dit klink alles baie tegnies, maar Randy se metode werk uitstekend. Toe moes ek nog gedurende die volgende jaar die finale skaafwerk doen. Asof dit so maklik is! Baie twyfel, moedeloosheid, redigering en herskryf later, is die finale produk eindelik klaar. Ek hoop julle sal die roman geniet. Onthou om Maartmaand se kompetisievraag te beantwoord.
