Die plek waar ek die groot trom slaan oor boeke, skryf, lees, Afrikaans en reis

Posts tagged ‘Lesotho’

Image

Herfs

My wederhelf hou nie van onbeplande trippies nie. Sy idee van geluk op die lang pad is om ons roete vooraf op die GPS in te sleutel. Dan kan hy tevrede wees in die wete dat Miss Florence Nightingale met haar soet stemmetjie nie histeriese herberekenings sal moet maak nie.

Vir die wis, die onwis – en  die paddavis – vat ons gewoonlik ook ons AA padkaarte saam. Hy dink ek weet nie daarvan nie, maar hy beloer boonop uit Google-Earth se hoogtes elke dal, bergreeks en bospaadjie nog lank voor ons in die pad val. Ons bespreek vooraf verblyf by al die plekke op ons roete waar daar miskien ʼn toeloop van toeriste mag wees. Hy is die bestuurder en ons veiligheid hang van hom af. Ek kla nie. Op my eie gaan ek tog nie rondreis nie.

So het ons dus met Clarens gemaak toe ons die naweek gaan kyk het hoe geel die populiere nou is.  Ge-Florence Nightingale sodat sy met haar lampie ons pad kan verlig, vooraf plek bespreek, deposito’s betaal, ens. Die naweek het ons duisende foto’s geneem, gekuier, geëet – al’s te lekker.

Toe praat ek hom om dat ons die duisterhede van Lesotho moet aandurf. Ons twee was nog nooit daar nie. So ry ons onbeplan (ons het hierdie keer ook die kaartboeke by die huis vergeet) deur die Caledon grenspos. Dit gaan klopdisselboom. Nog nooit is ons so vinnig deur ʼn grenspos nie. Florence wikkel met ons teen die Motengpas op. Basoetomans ry met kleurryke komberse op hul ponies. Die klank van skape se klokke weerklink in die Valley of Hope.

Ons oornag in die New Oxbow Lodge  heelbo op die berg. Dis bitter koud. Ons twee is die enigste gaste. Onweerswolke maak die lug donker. Skielik breek die son deur die reën in daardie matelose mooi lig wat mens soms kry net voor die son ondergaan. Ons staan op ons klein balkon en neem foto’s dat dit klap van die reënboog. Twee minute, toe is dit verby.  Op die terugreis was daar mis hoog in die berge.

Die enigste vlieg in die apteker se salf was die dik-gesig, smalende polisieman wat ons met ʼn soort van padblokkade net voor Butha-Buthe  in ʼn val gelok en probeer afpers het. Maar my man laat hom nie afpers nie en die ou het ons kopskuddend en met leë hande laat gaan.

Ons beplan alweer ons volgende trippie.

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.