Die plek waar ek die groot trom slaan oor boeke, skryf, lees, Afrikaans en reis

Posts tagged ‘Madrid’

Of amper enigiets

Die leuse wat ek seker die meeste gebruik is: As jy kan lees, kan jy enigiets doen. My kinders is al moeg daarvoor; hulle dreig om dit my grafskrif te maak. Hierdie lees- en skryflus kom seker van die een of ander oer-ouma of –oupa se gene, want my ouers het nie juis gelees nie en daar was min boeke in ons huis. Ek het geen herinnering waar hulle vir ons stories lees nie.

Die ooievaar het my kom neerlê in ‘n spoorweghuis in Northdene, ‘n voorstad van Durban. Toe ek jare later saam met my bejaarde pa daar rondloop en die huis soek, was daar net welige plantegroei en hier en daar ʼn stukkie fondasie. Wat my ouers nagelaat het om ooit te noem, was dat my geboortehuis ‘n halwe klipgooi van ‘n rioolplaas af was. Miskien het hulle gedink dis onnodige inligting om op jou lewenspad saam te neem en waarskynlik was hulle reg.

Spoorwegwerkers trek gedurig en so tjoef-tjaf die stoomtreine toe met ons stasiemeesterpa se groot gesin – vyf kinders – van die een plek na die ander. Klein dorpies in Natal, nog kleiner haltes in die Vrystaat – tot ons aan die einde van my skooljare in die Oos-Kaap beland. Ek word so tussendeur die gesin se amptelike storieverteller wat blitsig ʼn storie moes fabriseer oor enige onderwerp wat my boeties en sussie kon uitdink.

Hoe wens ek nie dat ek as klein kind kon lees soos hierdie kinders nie. Die standbeeld is in Madrid. Eers in die hoërskool het ek by ʼn skool beland wat ʼn biblioteek gehad het.

 

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.