Die plek waar ek die groot trom slaan oor boeke, skryf, lees, Afrikaans en reis

Posts tagged ‘NaNoWriMo’

Te Dam te Dam

Aangesien dit die plek is waar ek veronderstel is om die groot trom te slaan, maak ek dit maar  bekend. Ek het gister die kontrak geteken vir my nuutste boek, wat in Februarie 2012 by LAPA gaan verskyn! Die titel is Die Kamer Langsaan.

Reeds op 13 Julie 2009 het ek ‘n Word-dokument geskep.  Begin-idees, rondgetjommelry, was die naam.”  Baie literêr. Toe het ek die  basiese plot vir die boek uitgedink en getik en ook allerhande toepaslike aanhalings daarby geplak wat veronderstel was om my tydens die skryfproses te inspireer. Dit het nie, want ek het skoon vergeet om weer daarna te kyk.

Daarna het ek karakters geskep, foto’s in tydskrifte gesoek wat naastenby soos my karakters sou lyk, navorsing gedoen, tyd gemors en basies aanhou tjommel tot November 2009. My stief-skoondogter neem jaarliks deel aan NaNoWriMo (National Novel Writing Month) en sy het my daarvan vertel. Jy begin op 1 November en teen middernag op 30 November moet jy ten minste 50 000 woorde geskryf hê. Jy word heeltyd aangemoedig, opgesweep en gedreig om klaar te maak. Daar is selfs groepe in verskillende dorpe en stede (ook in Suid-Afrika) waar mense bymekaarkom om oor hulle manuskripte te praat en mekaar oor ‘n glas wyn, of iets sterker, te bemoedig of te inspireer. Persoonlik dink ek is dis beter om tuis te bly, jou neer te plak en te skryf, maar die seker maar my bababoemerigheid wat uitslaan.

So neem ek toe my voorlopige getjommel, plak my neer in November 2009, skryf meer as 50 000 woorde en verwerf ‘n sertifikaat van die NaNoWriMo ouens in die VSA. Whoopee!

Dit het nog ‘n goeie nege maande geneem voor ek  die manuskrip vir LAPA  se  Romankompetisie van 2010 ingestuur het.

En toe bereik die kindjie wasdom en word vroeg volgende jaar gebore! Dis ‘n baie lang proses. Dis baie harde werk. En dis hoekom ek die afgelope tyd so skaars was hier op die blogs.

Verskoon my. Ek gaan drink sommer ‘n glas wyn daarop – of iets sterker!

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.