
In 2005 was daar op my rekenaar ʼn manuskrip waaraan ek toe al ʼn paar jaar lank geskaaf het. ʼn Uitgewer aan wie ek dit voorgelê het was langtand vir die tema en omdat dit nie in ʼn bepaalde genre ingepas het nie.
Ten einde raad betaal ek toe maar vir ʼn keurverslag. Deborah Steinmair het gou laat weet:
“Ek is so beïndruk dat dit vir my voel soos ʼn poets, soos ʼn gevestigde skrywer of iemand van ʼn uitgewershuis wat ʼn boek wat reeds uitgegee of ten minste reeds deeglik geredigeer is, vir my stuur as ʼn ‘toets’.
Hier is ʼn kontemporêre storie met tersaaklike, fassinerende gegewe, interessante karakters en ʼn gesofistikeerde vertelstyl. Die verhaal LOOP sonder om vas te val in details, filosofering of beskrywing. Die ineenvleg en uiteindelike versmelting van die twee stories is slim. Daar word nooit verval in voorspelbaarheid, stereotipering of moralisering nie. Humor en intelligensie straal daaruit. ʼn Uiters leesbare boek!”
Geen wonder ek het gevoel asof ek sweef nie! Dit was net die aansporing wat ek nodig gehad het om my manuskrip vir Sanlam/Insig/Tafelberg Uitgewers se Groot Romanwedstryd van 2006 in te skryf.
En daar beland dit toe op die kortlys en Tafelberg publiseer dit in Augustus 2007. Op die omslag pryk twee yslike vrouevoete met bloedrooi toonnaels in flerrie-agtige wit skoene met groot, rooi lapblomme daarop. Die model dra selfs ʼn toonring.
Ek was in die hoenderhemel oor die positiewe resensies.
Protea se Nuusbrief lui:
Hierdie debuutroman gaan menige leser se tone van plesier laat krul juis vanweë die vervlegting van erns en humor hierin.
Die aard van die liefde is niks om oor te lag nie. Of is dit? Sekspraatjies is taboe. Sê wie? Wanneer Leandi en ‘n getroude man – met sy vrou se medewete – sy verligte idees oor die liefde wil beproef, het sy in haar vriendekring oorgenoeg raadgewers. Jonk, vrolik en vrydenkend, bevind sy haar tog soms in onmoontlike situasies. Dehlia, ‘n weduwee van byna sestig, het dieselfde drange. Maar elke ontmoeting met ‘n nuwe man wat sy via die internet leer ken, bring ontnugtering en feller eensaamheid. Maar sy bly in die liefde glo. In hierdie eietydse verhaal loop die twee vroue se lewens parallel tot dit eindelik op verrassende wyse ineensmelt. Gaan hulle proefnemings slaag?
Izak de Vries skryf in Litnet:
“Oop Kaarte se oemf lê nie bloot in die feit dat dit poli-amorie deel van die Afrikaanse hoofstroomliteratuur gemaak het nie; dit gaan verder as dit. Oop kaarte is ’n liefdesroman wat waag. Dit plaas sprokies onder die loep, sonder om noodwendig die sprokie te beswadder. Voorts bevat dit al die elemente van ’n liefdesroman, maar breek weg uit blote stereotipering en gaan snuffel, op ’n ligte manier, rond in die psige van die mens.
Oop kaarte is ligte vermaak en sal sonder twyfel ’n stadige Sondagmiddag verhelder, maar dis nie ’n roman waaroor jy skaam hoef te wees nie. Dalk is dit tyd vir die manne om ook gesien te word met Oop kaarte in jou hande, veral as jy ’n man is wat daaraan dink om ’n ekstra plesiertjie aan te skaf!”
En dan was daar die hewige woordewisseling tussen Joan Hambidge, Danie Botha, Jaybee Roux en ander in Rapport en op Litnet se brieweblad – oor die buiteblad, of die boek “chick lit” is, of dit as ʼn hygroman beskou kan word, of dit as ernstige literatuur om pryse mag meeding, ens. Jaybee Roux bespreek Oop Kaarte o.a. in sy artikel met die opskrif: Krisis in die Afrikaanse Literatuur.
Die gefladder in die duiwehok het bedaar en dit word binnekort as ʼn e-boek uitgegee. Besluit gerus self. Oop Kaarte en my ander boeke is beskikbaar by:
Kalahari.com
of by
Graffiti Boeke
Dit kan ook direk by my bestel word.