Die plek waar ek die groot trom slaan oor boeke, skryf, lees, Afrikaans en reis

Posts tagged ‘skryf’

Deurspek

Tydens  ʼn onlangse konferensie is die vraag weer eens gestel: wat is ʼn  tipiese Afrikaanse roman nou eintlik? Dis wat Joan Hambidge nou die aand op RSG tydens die program Skrywers en Boeke gesê  het. Die konferensiegangers het skynbaar ooreengekom dat dit ʼn roman is wat Afrikaanse woorde bevat wat Engelsprekende Suid-Afrikaners nie noodwendig sal ken nie.

Party Engelse skrywers beskik ook oor ʼn skynbaar onuitputlike woordeskat van duistere woorde. Een groot bron van lekkerte van ʼn Kindle is dat mens die betekenis van ʼn onbekende Engelse woord onmiddellik kan naslaan. Algaande leer jy darem, mits jy dit onthou.

Miskien is ek net so opsetlik soos hierdie skrywers, want ek hou ook daarvan om die woorde wat spontaan by my opkom te gebruik. Sommige daarvan is bra verouderd. Ander is streekstaal wat my ouers gebruik het of dis my skoon-ouma se gesegdes wat bly vassteek het, bv. vliekiestuiwer. Dit was haar woord vir daardie taai, rooi lelle wat van ʼn plafon hang en wat elke vlieg inderdaad in sy spore stuit.

Nie dat ek noodwendig “boektaal” wil “besig” of deftig wil praat nie. Ek voel dit net aan my moedertaal verskuldig om van ons pragtige idiome, skertsende woorde en neologismes nie verlore te laat gaan nie. Daar is mos heerlike woorde soos bv. kuierkoop, watsenaam en vuilbaard wat in geselstaal gebruik word en wat amper onvertaalbaar is.

As ons skrywers nie daarmee gaan vasbyt nie, gaan amazing, nice, cool en awesome binnekort ons enigste byvoeglike naamwoorde en bywoorde wees.

Oh, my word!  Maar dan sal dit seker nie meer nodig wees om die definisie vir ʼn tipiese Afrikaanse roman te soek nie. Enige Engelse leser sal die brabbeltaal easy-peasy verstaan. Dit sal myns insiens ʼn treurige dag wees.

Humor

Hoe skryf ʼn mens humoristies sonder om die perke van goeie smaak en welvoeglikheid te oorskry? Wat is regtig snaaks? Dis moeilik om te definieer, want wat vir een persoon laat lê van die lag, is vir ʼn ander pure lawwigheid.

Goeie raad is om nie oorboord te gaan met enigiets nie. Daar is min leesstof so irriterend as ʼn skrywer wat so behep is met sy eie spitsvondigheid dat hy nie weet wanneer om op te hou om die humor in ʼn situasie te melk nie.

Is daar enige lewenssituasie wat nie deur ʼn skrywer opgehelder kan word met ʼn geïnspireerde ligte oomblik nie? Nie dat mens enigsins spot met siekte of die dood nie, maar my ervaring is dat die menslike gees selfs in die diepste, donkerste ellende die behoefte aan humor het. Miskien juis dan, want dit is tog al bewys dat om te lag liggaamlike en geestelike genesing bring. In die saal waar pasiënte chemoterapie kry is die atmosfeer dikwels opgeruimd en word die stoutste grappe vertel.

Wat my lagspiere prikkel is die skerpsinnige opmerkings wat mense dikwels kwytraak, eerder as grappe wat ek in elk geval nie kan onthou nie of waarvan ek altyd die “punch line” opmors. Ek skryf dit neer en het al daarvan in my romans gebruik. Soms verspreek andertaliges hulleself of druk hulself moeilik uit en die juweeltjies wat hulle kwytraak is ook bruikbaar. Ek veronderstel skrywers van Engelse romans hou ook aantekeningboeke byderhand om ons flaters in neer te pen. Een skrywer wat ek raakgelees het, praat van haar “swipe file.” Is dit verkeerd om mense af te luister,  veral wanneer hulle luidkeels hul doen en late op hulle selfone uitblaker?

Een aand tydens ʼn algemene vergadering van die eienaars van ons deeltitelkompleks, het die deeltitelbestuurder die volgende kwytgeraak:

  • Wat daar aangaan, sal net hy nugter weet.
  • Ons was noodgedwonge gewees om …
  • Die opsigter is nog siek, maar Japie staan sy pos viervoetig in.
  • Omdat die Forum hom goeddoen vanaand, wil ek dit aan julle voorlê.
  • Hulle het hom steeds sy Augustus salaris toeverdien.

(Ek het kopiereg daarop, want ek het dit met my persoonlike ore aangehoor.)  :) En nou gaan ek gou viervoetig in my pos staan.

Resensie van Die Kamer Langsaan

Hierdie resensie het in vandag in Rapport verskyn:

Verhoudings so broos soos fyn porselein

2012-04-14 12:41

 Foto’s   ·   Lesersfoto’s   ·   Nuus in Foto’s Stuur vir ons jou foto’s  ·  Stuur vir ons jou foto’s

Nini Bennett

Die kamer langsaan deur Annemari Coetser. Uitgewer: Lapa. Prys: R170

Uit Annemari Coetser se pen het Oop kaarte (2007), Langverlof (2008) en Aan die windkant (2009) al verskyn. In Die kamer langsaan, haar jongste roman, eksperimenteer sy met die verhouding tussen werklikheid en fiksie.

Die hoofkarakter, Donné, pak haar tasse ná ’n rusie met haar man, huur ’n meenthuis en besluit om haar debuutroman te skryf. Die eienaar van dié huis, Theresa, en haar 93-jarige ma, Susan, huur op hul beurt ’n kamer in ’n ouetehuis.

Donné se verbeelding word geprikkel: In haar roman skep sy ’n verbeelde werklikheid om Theresa en haar ma. Uit skinderbrokkies van ’n buurvrou kom Donné agter sy beweeg ontstellend na aan die waarheid.

Die roman is ’n deernisvolle kyk op ’n moeder-dogter-verhouding, huweliksontrou en depressie. Theresa meen sy is deur Susan gemanipuleer en het daarom nie met die liefde van haar lewe, Gerhard, getrou nie. Susan was op haar beurt weer ’n slagoffer van gesinsgeweld en het geglo sy tree in haar dogter se belang op deur haar teen mans te “beskerm” (en van Gerhard te vervreem).

Intussen smeek Donné se man haar om terug huis toe te kom. Deur tegnieke van inbedding word die grens tussen werklikheid en fiksie oorgesteek en beweeg die outeur seepglad tussen die verbeelde en reële karakters totdat die werk eindelik opgehef word as fiksie.

Die kamer langsaan word ’n simbool van die dood en Coetser waarsku dat mens moet waak teen morele oordele, want verhoudings is broos.

Deurlopend word kommentaar gelewer oor die skryfproses en skrywer-wees, dat sommige skrywers fyn waarnemers én voyeurs, is en dat skrywerskap omsigtigheid en integriteit verg.

Die kamer langsaan is ’n vars en eerlike roman. Dit is jammer dat die karakterontwikkeling van Susan effe eendimensioneel bly (die terugflitse na haar moeilike kinderjare op bl. 155-156 kon byvoorbeeld meer momentum gekry het in pas met haar latere selfsugtige optrede).

Coetser skryf nietemin humoristies en gevat, soos op bl. 151:

“Hy is een van die mees katoolse ou mans wat sy gesien het. Op sy dae was hy seker aantreklik, maar nou gril sy vir sy tande wat net hier en daar soos ’n mieliestronkmisoes in sy pienk tandvleise pronk.”

Die kamer langsaan is ’n toeganklike werk met heelwat pitkos.

Gieljam

Gieljam in die golwe

Ek weet nie of iemand anders al ooit van G. Sutherland gehoor het nie, maar ek is mal oor sy boeke. My gunsteling is Gieljam in die golwe : ʼn roman. Dit is reeds in 1949 uitgegee.

Hy het die wonderlikste sin vir humor (gehad?) Verskeie van sy kortverhale het ook in tydskrifte verskyn. Toe my seun as tiener net so gaande oor hom was en ek gehoor het dat hy in Pretoria bly, het ek speurder gespeel. Die tweede Sutherland in die telefoonboek het my sy nommer gegee.

Hy was toe reeds bejaard en verskriklik ingenome daarmee dat ek hom gebel het. Ek dink ek het sy week gemaak. Skrywers is maar weerlose dierasies wat ‘n opregte kompliment waardeer.

Ek besit, behalwe Gieljam, ook Lenteliefde. Jaar van publikasie onbekend, maar daar is ʼn advertensie vir Calvita Gesigspommade op die eerste bladsy: Stel u gelaatskleur u gerus? vra hulle nuuskierig. Agter in die boek is ʼn advertensie vir Voorpos se skoonheidswedstryd en een vir ʼn Maandblad met Persoonlikheid,  Transafrika.

Avonture tussen mure is in 1979 deur Daan Retief uitgegee en dis juis met die lees daarvan dat my seun hom ook ontdek het.

ʼn Internetsoektog oor Sutherland lewer niks op nie. Weet enigiemand iets van hom? Ek sal wat gee om nog van sy boeke te lees.

(‘n Ander weergawe van hierdie skrywe het voorheen in Boekemakranka verskyn.)

Boererate

Vir my vorige boeke het ek navorsing gedoen. Om feite in te samel vir die historiese roman wat ek nou skryf, voel egter meer na ʼn speurtog. Die verhaal begin aan die einde van die negentiende eeu en eindig in 1944. Dus moes ek tjop-tjop ʼn hele klomp goed oor hierdie era uitvind, want ek is gelukkig om te sê dat ek darem nie in daardie tyd geleef het nie. :)

Boererate het my nog altyd geïnteresseer en ek gebruik daarom een of twee in ʼn toepaslike gedeelte van die manuskrip. My ma het ʼn ou resepteboek gehad waarop die woord “Lekkerkos” in kursiewe swart letters skuinsoor die rooi omslag gedruk was. Ek het grootgeword met hierdie boek en is nou die trotse eienaar daarvan.

As kinders het ons die boererate agter in die boek skreeusnaaks gevind. Hier volg die raad vir “Spelde geslik deur kinders.” Skynbaar was dit ʼn algemene tendens in 1931 vir kinders om spelde te “slik.” Die raad is waarskynlik steeds van toepassing op kleremakers met hierdie neiging.

“ʼn Speld word soms geslik deur kinders en die verpleging moet bestaan om die speld deur die ingewande te laat passeer. Met dié doel moet ʼn groot kwantiteit ertappels gegee word en nie ander voedsel nie, totdat die speld gepasseer het. Moenie purgeermiddels gee nie.”

Dit maak sin. Dit val my by dat Dirk Kamfer in sy boek Die Elfde Uur, in 1962 deur Tafelberg uitgegee, boererate uit mev. Dijkman se beroemde kookboek aangehaal het. Ek gaan soek die boek op my boekrak.

Een boereraat lui:

Teen Wirms: Di aand tevore niks eet ni, om di wuirms uit te honger, dan smorrens op di nugter maag ʼn stukki brood in di mond neem, om hulle na bowe te lok, maar niks insluk nie; dan ʼn sopie brandewyn inneem om hulle dronk te maak; en dan ʼn jalap pergasi inneem om di wirms te lat uitwerk.”

Daaronder volg Dirk se kommentaar: Ghoebaai, wirms – julle het jul sleg laat verneuk!

My geërfde resepteboek het nie meer ʼn titelbladsy nie. Om die boek as bron in my manuskrip te aandui, lewer toe ʼn nuwe speurtog op. Gelukkig kom ek op die internet op ʼn artikel af in Die Beeld van 28 November 1996, geskryf deur Dr. Jan van Elfen, waar hy o.a. ou resepteboeke bespreek.

Daar lees ek toe vir die eerste keer my kosbare boek se volledige titel raak: Lekkerkos, kook-, koek-, resepte- en koekversierselboek deur ʼn Praktiese Huisvrou van Zastron. ʼn Hele mondvol. Dis in 1931 deur HAUM uitgegee. Die praktiese huisvrou was ene mev. Van Tulleken van Zastron.

Net waar sy plek kon kry, het my moeder in hierdie boek haar eie reseppies met ʼn “indelible” potlood geskryf. Tussen die praktiese tante se Raad vir Sweterige Voete en haar Geneeskundige Voorskrifte verskyn my ma se resep Vir Galsiek.

Ek wens ek het, toe ek onlangs te veel ryk kos geëet het, daaraan gedink om 1 koppie suiker, 1 gelling water, 1 koekie blousel en 1 bottel asyn te meng en te drink, maar ek vermoed die resep was vir iemand anders  bedoel.

 

Hartuitstortings op papier

Om my gevoelens op papier neer te pen, is my belangrikste uitlaatklep. Onlangs ontdek ek weer  ʼn dagboek uit my kleintyd. “So baie jare is verby,” skryf ek dramaties op my dertiende verjaarsdag, net na die inskrywing van hoe ek saam met my broers albaster gespeel het.

Deur die jare het die gewoonte my duisende rande bespaar aan rekenings van sielkundiges, huweliksraadgewers en prokureurs, dit glo ek vas. Papier is mos geduldig. En deesdae kan vinnige vingers op rekenaartoetse trauma, woede en hartseer vlytig verwerk.

Die eerste keer toe my hart gebreek is, het dit  ʼn swart hardebandboek vol selfbejammering opgelewer. Dis aangevul met toepaslike aanhalings uit Sy kom met die sekelmaan en soortgelyke lydingsgeskiedenisse. Ek moes die dagboek verbrand toe my volgende kêrel op die toneel verskyn, want ek sou tot in my tone ineengekrimp van skaamte as hy dit sou sien.

‘n Besondere traumatiese tyd in my lewe het ʼn hele manuskrip opgelewer. Genadiglik is dit nooit gepubliseer nie, maar sedertdien het ek bruikbare stukke daaruit gekannibaliseer vir nuwe boeke. Net soos ʼn mens nie die presiese intensiteit van pyn kan onthou nie, so is jy soms by ʼn herlees verbaas oor hoe rou jou emosies was.

Was ek regtig so kwaad soos die aand toe ek in ʼn Word-dokument vuur gespoeg het? En die klagstaat van my naaste en liefstes se oortredings en tekortkomings wat ek verdoesel het tussen my administratiewe dokumente, was dit op die ou end so erg? Ek onthou dan nie eens wat gebeur het nie.

Die pen is nie net magtiger as die swaard nie. As jy so impulsief soos ek is, is dit ook verkieslik. Die enigste probleem is die dag wanneer ek vir altyd oorstap na die kamer langsaan. Miskien moet ek ʼn kodisil in my testament sit: verbrand al my dagboeke, breek my CD’s,  format my rekenaar en behou so julle beeld van my sagmoedigheid.

Of lees die goed, warrehel. Ons is almal net mense.

‘n Reusesprong

Dis wat dit was. Net soos in daardie speletjie wat ons as kinders altyd gespeel het:

Koning, Koning, hoe ver mag ek reis?

Sewe babatreetjies, antwoord die kind wat “aan” is.

Of, as jy gelukkig is, ʼn skêr, of, ʼn reusesprong.

Tussen die eerste boek wat ek besit het en die eerste boek wat ek geskryf het, lê daar 55 jaar.

Ek was vyf jaar oud toe ek hierdie boek gekry het.

 

Dis geskryf deur M. Akkerhuys, en is in 1949 deur die Unie-Boekhandel in Pretoria uitgegee. Vandag sal so ʼn vaal boekie met swart-en-wit prentjies geen aandag op die rak trek nie.

Daarom, toe ek sestig slaan, my eerste roman (wat eintlik ook maar oor twee stout prinsessies handel) met ʼn omslag wat niemand kon miskyk nie.

Meer daaroor later.

Boe – en Ba!

As kind was ek so skaam dat ek nooit boe of ba kon uitkry nie. Ek was die dogtertjie met die vuil groottoon wat in die grond boor, te beskroomd om my mening te lug.

En nou wil ek sowaar hier skryf oor my boeke wat wel die winkelrakke gehaal het! Die toepaslike spreekwoorde wat ek ken maak my tog huiwerig. Dit smaak my dat daar eerder ‘n reukie van selfverheerliking as selfbemarking by hierdie proses betrokke is.

Die trompet blaas, eie basuin blaas, die groot trom slaan – almal bra negatief. Wat ek regtig nie wil wees nie, is ‘n snoeshaan, al klink die woord net reg vir ‘n koue wintersaand.

Nietemin! Dis die nuwe neiging. So kon skrop maar asseblief saam met die snoeshaan rond op hierdie sosiale werf. Miskien snuffel ek tog ‘n vet mieliepit of twee uit om met jou te deel – of dit oor die skryfproses gaan, oor ‘n mooi boek wat ek gelees het, ‘n Afrikaanse woord of gesegde wat net reg op die tong proe, of dalk ‘n foto of die herinnering aan ‘n reis is wat ek wil deel.

Follow

Get every new post delivered to your Inbox.